Ek het ‘n G5RV gehad. Vir baie jare was dit my enigste antenna. En toe ek in 2005 by my huidige QTH ingetrek het, het ek ‘n G5RV Junior by OM Sam gekoop. Hulle het almal redelik goed gewerk.
Maar ek het altyd gewonder of dit ‘n goeie antenna is, dalk selfs die beste opstelling in my opstelling.
Die generiese naam vir ‘n G5RV of ZS6BKW en soortgelyk is ‘n “multiband doublet antenna”. Dit is ‘n outydse ontwerp en daar is niks fout met die beginsels waarop dit werk nie.
Nietemin het hy sy eie swakplekkies, en sy Achilles hakskeen is juis daardie ladder line impedansie aanpassing om die radio ‘n gemiddelde 50 ohm te laat sien. Jy moet nog steeds ‘n Balun onder aan die kabel sit waar hy in jou radio inprop. Nou, dink ‘n bietjie daaraan dat ladder line is 1940’s tegnologie, dit is al wat hulle gehad het toe die antenna ontwikkel was … daar was nog nie koaks nie en radios het nie PL259/SO239 konneksies gehad nie. Jou radio het twee skroefies agter op gehad vir jou antenna.
Wanneer mens ‘n doublet opstel is daar twee dinge waaraan mens moet dink. Eerstens, as jy in elk geval ‘n balun onder moet sit, hoekom sit jy hom nie sommer van die begin af bo nie? Die sogenaamde verliese is dieselfde (en nie baie nie) en mens elimineer nommer #2 probleem.
So nommer twee probleem is juis daardie ladder line wat nie naby enige iets mag hang nie, want dan word sy impedansie geaffekteer. Hy moet wegbly van mure, skoorstene, bome, pale, en al daardie goed. Nou, in 1950 het mens groot erwe gehad en daar was altyd genoeg plek om die tweeling draad mooi oop te hang. Vandag … nouja, vandag se dae sukkel mens met spasie.
In elke geval dink so ‘n bietjie. As ladder line dan so goed is en so min verliese het ens, hoekom gebruik Vodacom en MTN dit nie in hulle selfoon torings nie? Yip, Koaks wat korrek opgestel is sal altyd baie beter werk. Dis 2025 tegnologie om koaks te gebruik.
Ek is nie negatief oor die Doublet nie, myne het nog altyd goed gewerk. Oppas maar net vir die slaggate. En hou die tweelingdraad weg van jou skoorsteen.
Nouja, kom ons gesels môre verder.
73 de Leon Uys ZR6N
